[advanced_iframe src=”https://www.youtube.com/embed/DoDBo0up4kE” width=”100%” height=”70″]

[fbq]

Jo het ‘n oulike en humoristiese manier om sy verhaal te vertel. Hy vertel van sy moeilike ervaring, veral voor hy meer blootstelling in die musiekbedryf beleef het. Hy het onder andere gebuk gegaan onder “finansiële stres”, minderwaardigheid en depressie. Hierdie probleme, sê Black, het voor hom gestaan soos die reus Goliat en sy vier broers. Hy kom tot die gevolgtrekking dat hy soos Dawid ‘n klip in geloof moes gooi om elkeen van die reuse te verslaan. Ander mense het ook namens hom ‘n klip gegooi, vertel hy.

Hy sluit sy video af met die inspirerende boodskap, dat elkeen van ons dalk ‘n Goliat het wat voor ons staan. Een of ander moeilike situasie of omstandighede, soos bv. kanker, depressie, armoede ensovoorts. Hierdie Goliat, sê Black, kom staan dalk voor ons “dat daar ‘n Dawid in jou kan wakker word”.

Ek geniet Jo se musiek. Ek geniet die manier waarop hy die storie vertel, maar ek geniet nie die teologie agter sy boodskap nie. Die boodskap van Black se video is vir my kommerwekkend, want dit wat ‘n mens daar hoor, hoor ‘n mens al hoe meer onder Christene in Suid-Afrika.

Kom ek probeer verduidelik, deur te wys wat die vyf klippies in die slingervel van swak teologie kan wees.

(Let wel: ek sê nie alles wat ek hier noem is Jo Black se standpunt nie. Ek is nie besig om hom te beskuldig of te veroordeel nie. Ek wil nie ontken dat hy ‘n Christen is nie. Ek lig bloot uit dat sy boodskap baie algemene elemente van ‘n verwronge, maar gewilde teologie in Suid-Afrika verklap.)

1. Ervaring

Die eerste klip in die slingervel van swak teologie, is ervaring bo “feite”. Dit is emosies bo eksegese. Belewenis bo die Bybel.

Black sê aan die begin van sy video, dat hy ‘n mens nie wil verveel met die feite nie, maar eerder sy persoonlike ervaring(s) met ons deel. Dit maak sy video miskien ‘n bietjie meer “verteerbaar”, veral op sosiale media, want ons wil nie verveel word nie. Feite in vandag se tyd van onmiddelike vermaak is dodelik. Ons wil meer voel as wat ons dink!

Al hoe meer in Suid-Afrika, hoor ‘n mens meer eksegese van mense se ervarings, as eksegese van die Skrif. Eksegese beteken ‘n mens haal uit die Skrif wat die Outeur daarmee bedoel binne die konteks van die Skrif. Deesdae ontleed al hoe meer mense eerder hulle ervarings en soek ‘n Christenstorie waarby dit pas.

Die eerste klip in die slingervel van swak teologie is die verhewenheid van ervaring bo eksegese.

[bctt tweet=”Al hoe meer in Suid-Afrika, hoor ‘n mens meer eksegese van mense se ervarings, as eksegese van die Skrif.” username=”scriptura_tweet”]

2. Stories

Die tweede klip in die slingervel van swak teologie, is baiekeer die klip teen die gesag van die Evangelie. Dit is ‘n onderbeklemtoning van die historiese feite in die Skrif. Dit maak van die Evangelie-verhale, bloot ‘n versameling inspirerende stories.

‘n Christendom wat die heilige ontsag van God en Sy Woord vergeet, is al hoe meer sigbaar in ons samelewing. Wanneer ons die Bybel nie meer in Sy geheel lees en uitlê nie, kan ons maklik vergeet dat dit Godsopenbaring is van Genesis tot Openbaring. Dit is nie ‘n storieboek nie.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,” (2 Tim. 3:16)

Afbreek aan die gesag van die Skrif is ‘n dodelike klip tussen die oë van gelowiges.

[bctt tweet=”Wanneer ons die Bybel nie meer in Sy geheel lees en uitlê nie, kan ons maklik vergeet dat dit Godsopenbaring is van Genesis tot Openbaring. Dit is nie ‘n storieboek nie.” username=”scriptura_tweet”]

3. Kerk

‘n Derde klip, wat al hoe meer geslinger word met die slingervel van swak teologie, is die klip teen die Kerk.

Black lig dit humoristies uit, wanneer hy sê dat hy nie kan kwaad word vir die ou tannie in die kerk nie, want “hy het nog sy kerk-gesig op”. Wat is ‘n kerkgesig? Wat beteken dit? Ek weet nie presies nie.

Al hoe meer mense wat aanvoer dat hulle Christene is hou nie noodwendig die Kerk as Bruid van Christus in hoë aansien nie. ‘ Mens moet versigtig wees oor hoe ‘n mens praat van die Kerk. Ek is dankbaar dat Black ‘n rol speel in sy gemeente (hy sê dat hy “aanbidding lei”) en dat hy heelwaarskynlik ‘n hoë aansien van die kerk huldig.

Tog is dit nie die geval met baie ander “Christene” in ons land nie. Die Kerk is nie ‘n instansie waarby die gelowige opsionele lidmaatskap het nie. Die Kerk is inderdaad heilig. As die Nuwe-Testament sê die Kerk is heilig, dan beteken dit, dit is wat Sy sal wees. God heilig haar deur Sy Gees. Dit beteken nie die kerkmense is sonder sonde, beter as ander mense of hoogheilig nie. Dit beteken die Kerk is mense wat deur God afgesonder is, sodat Hy hulle kan gebruik.

Kerk-wees is ons identiteit in Christus. Deel van hierdie identiteit is gereëlde aanbidding saam met ander gelowiges (in die erediens, onder die Woord). Baie voer deesdae aan “ek is kerk” en “hoef nie kerk toe te gaan nie”. Vir meer hieroor, luister gerus na hierdie episode van Radio Scriptura: http://www.scriptura.co.za/2018/05/deel-van-die-plaaslike-kerk/ 

Suid-Afrikaanse Christendom slinger al hoe meer en al hoe groter klippe teen die Bruid van Christus – Sy Kerk.

[bctt tweet=”Kerk-wees is ons identiteit in Christus. Deel van hierdie identiteit is gereëlde aanbidding saam met ander gelowiges (in die erediens, onder die Woord).” username=”scriptura_tweet”]

4. Allegorie

Hierdie klippie lyk baie soos die eerste een wat ek genoem het. Allegorie en allegoriese prediking lees geestelike betekenis in ‘n teks in, wat nie deur die Outeur bedoel is nie. (Ek troos my daaraan dat nie net baie gelowiges van vandag nie, maar selfs die ou Joodse Rabbi’s baie skuldig was aan allegoriese Skrifuitleg. Hulle het baie kragtige boodskappe en lewenslesse oorgedra vanuit teksgedeeltes, maar die les, was nie noodwendig wat die Skrifgedeelte daarmee bedoel het nie).

Black “verklaar” die Evangelie-verhaal van Dawid en Goliat allegories, deur Goliat en sy broers gelyk te stel met ons probleme. Die dood van Goliat is die einde van die probleem. Ek is Dawid. In geloof oorwin ek die probleem. Kragtige les. Inspirerende storie, maar dit is allegorie.

Ons sien allegoriese verklarings ook in baie Bybelstudiegroepe: “wat beteken hierdie vers vir jou? Vir my beteken dit so en so…” Dit verhef subjektiewe interpretasie bo die ware, objektiewe betekenis van die oorspronklike Outeur. Daar is net een betekenis van ‘n teks en ons moet stoei en soek saam met die gelowiges van alle eeue om dit te vind.

[bctt tweet=”Ons sien allegoriese verklarings ook in baie Bybelstudiegroepe: ‘wat beteken hierdie vers vir jou?'” username=”scriptura_tweet”]

So, nie net is swak eksegese ‘n probleem (eerste klippie) nie, maar net so skadelik is horribale hermeneutiek. Hermeneutiek is die wetenskap van Skrifuitleg. Dit is ‘n wetenskap, wat beteken dit funksioneer ooreenkomstig vasgestelde reëls. Een van die reëls van (Gereformeerde) hermeneutiek sê, dat die leser moet soek na die bedoeling van die Outeur!

Die vierde klip in die slingervel van swak teologie, is allegoriese Skrifverklarings, wat spreek van slegte en onbybelse hermeneutiek.

5. Christus

Hierdie is die rede wat my uiteindelik oortuig het om hierdie artikel skryf. Dit gaan vir my daaroor, dat die teologie in baie Christenkringe al hoe meer wegdryf van Christus self. Hoe so? Wel, as die gesag van die Skrif in twyfel getrek word, ‘n lae beskouing van die Kerk gehandhaaf word en die bedoeling van God se openbaring gemis word, sal ‘n mens al hoe meer preek oor die mens vir die mens. Christus as die Evangelie word verdryf.

Ek wíl jou verveel met die feite, want die feite is Godsopenbaring. Dit tel meer as my ervaring. Die uitleg van 1 Samuel 17 spreek van die verlossing in Christus:

Dawid is ‘n skaduwee van die Seun uit Sy nageslag, Jesus Christus. Die profete voor Dawid het reeds van Hom geprofeteer. Goliat is die ou vyand van Israel en van jou en my: die sonde en die dood.

Wie is jy en ek in hierdie verhaal? Ons is ongelukkig die Israeliete wat te bang was en inderdaad nie in staat was, om Goliat aan te vat nie.

So, Jo Black se boodskap is…oulik, semi-inspirerend en vermaaklik, maar dit is dodelik. Hoekom? Want, wat as ek en almal anders vir Jo ‘n klippie geslinger het, maar hy het nooit ‘n gewilde sanger geword nie? Wat as die Goliat van jou kanker die oorhand kry? Wat as al jou antidepressante nie genoeg is om die reus van depressie te verslaan nie? Sê nou maar daar is niemand anders wat vir jou ‘n klippie kan slinger nie? Wat dan?

Ons het ‘n groter verlossing nodig, as die verlossing van “finansiële stres” en minderwaardigheid. Ons het verlossing nodig van die reus van die dood. Die Doodsreus staan lewensgroot voor ons en ons kan hom nie oorwin nie. Ons sidder vir hom.

Totdat ons Christus, die seun van Dawid op die slagveld sien stap. Sonder wapenrusting. Hy kom staan aan die voorste linies om die kop van die Reuse Slang te vermorsel.

Kom wat wil – alle probleme en moeites! Christus het die klip gegooi en oorwin. Ek dank die Here, dat ek nie Dawid in die verhaal is nie, want nie net sou ek mis gegooi het nie, ek sou nooit vir die geveg opgedaag het nie. As ek myself enigsins êrens in daardie oorlog moet inlees, is ek meer waarskynlik ‘n Fillistyn as enigiets anders.

Ek sê nie Jo Black is nie ‘n Christen nie, of dat hy nie aan die kerk behoort nie. Inteendeel. Ek sê net: oppas vir die klippe uit die slingervel van swak teologie.

[bctt tweet=”Ek dank die Here, dat ek nie Dawid in die verhaal is nie, want nie net sou ek mis gegooi het nie, ek sou nooit vir die geveg opgedaag het nie.” username=”scriptura_tweet”]