Alles het begin in Mei 2010 toe die Here my uit genade alleen gered het. Voor dit was ek vir ‘n klomp jare (ongeveer 15 jaar) buite die kerk waartydens ek heeltemal afvallig geword het. Alhoewel ek as ‘n jongman aangeneem en voorgestel was in die NG Kerk, het ek nie veel van verbondsteologie en die doop verstaan nie. Na my bekering wou ek egter graag weet wat die ware Christelike geloof is aangesien daar net een God en een waarheid kan wees. Tussen al die verwarring van kerke en leerstellings wou ek graag weet wat die Woord leer. In my soeke het die Here my gelei na die gereformeerde leer. Deur die gereformeerde leer het ek vir die eerste keer werklik die evangelie verstaan – redding deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen. Dit was asof ek ‘n tweede wedergeboorte beleef het toe ek die genadeleer verstaan. 

In 2012 het ek toe by ‘n Gereformeerde Baptiste Kerk lidmaat geword omdat ek oortuig was dat slegs die wat geloof kan bely gedoop mag word en babas dus nie in die kategorie val nie. Ek en my vrou is toe gedoop op 16 Desember 2012 as lidmate van die Baptiste Kerk. Ek was op daardie stadium gereformeerd in my soteriologie maar het nog nie ‘n goeie begrip gehad van verbondsteologie nie. Ek was oortuig dat slegs die wat wedergebore is weens God se uitverkiesende genade deel van die verbondsgemeenskap is en nie hul kinders nie. Die verbondsgemeenskap is dus gelykstaande aan die onsigbare, of dan, geestelike kerk. Alleenlik die wat tot geloof kom en gedoop is mag lidmate van die kerk wees. Redding en verbond is dus eerstens individueel totdat jy deel is van die geloofsgemeenskap deur wedergeboorte. 

In 2013 het ek teologie begin studeer omdat ek oortuig was die Here het my geroep tot die bediening. Tydens my eerste jaar van studie het my eskatologiese siening begin verdiep. Ek het oortuig geword van verbondseskatologie en dat dispensasieteologie onbybels is. Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament is een en dieselfde ding. Ek het in die Skrif begin raaksien dat God nog altyd net een volk gehad het, die Israel van God, en dat die Nuwe Testamentiese kerk niks anders is as Israel wat tot die ware realiteit gekom het van God se beloftes aan hulle nie. Dat die kerk, die ware Israel oor alle tye, die vervulling is van God se verbondsbeloftes aan Israel. Wat vir my begin uitstaan het is die eenheid in die Skrif tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, en Israel en die kerk. God het nog altyd net een volk gehad onder die koningsheerskappy van Koning Jesus. Hierdie is belangrike verbondsbeginsel wat die sleutel is tot verbondsteologie en verbondsdoop. 

Alhoewel ek die belangrike verbondsbeginsels geglo het, het ek nog nie mooi verstaan hoe al die verbonde inmekaar steek nie. Ek het nog nie ‘n genuanseerde prentjie gehad van die hele verlossingsverhaal nie. In my derde jaar van deeltydse teologiese studies het ons ‘n vak gehad, “Biblical Theology.” Twee van ons voorgeskrewe boeke het gehandel oor die geheelbeeld van die Skrif deur die verbonde. Dit het my oë oopgemaak vir ‘n nuwe verstaan van die Skrif. Dit was vir my soos ‘n nuwe openbaring van God as die Vader van my gesin. God is ‘n Verbondsgod en verbond is die sentrale manier hoe hy Homself aan Sy volk geopenbaar het. Tesame met dit het ek ook tot ‘n nuwe openbaring gekom van kerk en gesin. Dat gesin die kleinste vorm van kerk en die boublok van die verbondgemeenskap is. Ek het gesien dat Adam en Eva die eerste kerk en verbondsgemeenskap was. Vanuit hulle het die ewige verbond deur die Skrif uitgespeel, deur Noag, Moses, Abraham, Dawid tot in die Nuwe Testamentiese kerk onder Jesus. Dit het ernstige vrae aan my begin stel oor die plek van kinders in die kerk en verbond. 

Op die stadium was my idee oor verbond, gesin en hul kinders redelik gevorm soos gereformeerde teologie dit leer. Ek was oortuig dat die kinders van gelowiges ingesluit is in die verbond onder die federale hoofskap van die ouers. Maar ek het geglo dat slegs gelowiges mag deel in die sakramente (Rom. 6:1-10; Kol. 2:11-12; Markus 16:16; Mattheus 28:18-19). Ek het egter toenemend ‘n stryd begin ervaar omdat daar meer vrae as antwoorde was: Wanneer het God sy gedagtes verander oor gelowiges en hul kinders? Waar het God gesê die kinders van gelowiges moet uitgesluit word in die Nuwe Testament? Was die aard van die genadeverbond en redding dan anders in die Ou Testament toe God gelowiges se kinders ingesluit het? Wat gebeur met die Abraham belofte in die Nuwe Testament en hoe word dit toegepas – “Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou” (Gen. 17:7). Wat is die teken van die verbond in die Nuwe Testament aangesien ‘n verbond ‘n fisiese teken het? Moet doop onderdompeling wees of is besprinkeling goed genoeg? Hoe kan so baie gereformeerdes verkeerd wees? Wat leer die kerkgeskiedenis ons oor die doop? 

Die vrae het my gedwing om my posisie te heroorweeg. Ek het toe besluit om die Bybel, kerkgeskiedenis en wat teoloë leer oor die doop van vooraf te ondersoek. Soos ek die Bybel begin deurlees het kon ek sien God praat van die kinders van gelowiges as Sy kinders. Dawid getuig (Ps. 22:10) dat hy aan God behoort van die moederskoot af en Maleagi (2:15) vertel van God se plan deur die huwelik om ‘n goddelike nageslag te hê. Deurlopend getuig die Bybel van God se belofte om ‘n God te wees vir gelowiges en hul kinders. Die konstante boodskap deur die hele Bybels is: “Ek is ‘n God vir jou en jou nageslag.” Die vraag is nou, sien mens dieselfde boodskap in die Nuwe Testament en hoe word dit toegepas? Ja, Jesus het die kinders van gelowiges binne die koninkryk gesien en nie as buitestanders nie (Matt. 19:13-15). Die taal wat Jesus gebruik het teenoor die kinders van gelowiges was verbondstaal. Dit beteken nie kinders word outomaties gered omdat hulle in ‘n gelowige huis gebore word nie maar Jesus reken hulle in as Hy van die koninkryk praat. 

Petrus het dieselfde gesê op Pinksterdag – “die belofte kom julle toe en julle kinders” (Hand. 2:39). Dit is dieselfde verbondstaal as Genesis 17. Die Jode wat daardie dag na Petrus geluister het met hul Ou Testamentiese verbondsagtergrond het presies geweet wat Petrus bedoel. Dit sou die natuurlikste ding vir die Jode wat tot geloof gekom het om te verstaan hul kinders is saam met hulle ingesluit in die nuwe verbond. Hiermee wys Petrus vir ons dat die verbondsbeginsels in die Nuwe Testament nie verander het nie, net die teken. Paulus bevestig die gedagte in 1 Korintiërs 7:14 waar God so vêr gaan deur die ongelowige lewensmaat in te sluit ter wille van die kinders anders sou hulle buite die verbond staan. Die huwelik was soos ‘n sambreel met die kinders van gelowiges onder die sambreel. Selfs die gesinne-doop in Handelinge getuig van dieselfde verbondsbeginsels as in die Ou Testament – “jy en jou gesin.” Alhoewel die gesinne-doop nie duidelik is of daar babas teenwoordig was nie bevestig dit die patroon tussen die Ou en Nuwe Testament. Die verbondsbeginsels van die Ou Testament het nie verander nie. Daar is ‘n reguit lyn tussen die testamente wat die kinders van gelowiges aanbetref. 

Die prentjie het nou vir my duidelik geword. Ek kon die punte in die Ou Testament verbind met die in die Nuwe Testament en die kinders van gelowiges was onder die lyn ingesluit. Die Nuwe Testament is nie stil oor die kinders van gelowiges nie, inteendeel, dit is soos ‘n luidspreker; dit bevestig en versterk die Ou Testamentiese boodskap. Kinders van gelowiges word ingereken en mag die verbondsteken van die Nuwe Testament, naamlik die doop, ontvang. Die kruis het in die middel van die lyn gestaan met die besnydenis wat vorentoe wys en die doop wat terug wys. Die besnydenis was ‘n simbool van Jesus wat afgesny sou word en deur Sy bloed vergifnis bring. Die water van die doop was ‘n simbool van die afwassing van sonde en die nuwe lewe wat Jesus sou skenk. Beide was ‘n getuienis van die evangelie; ‘n verbondsteken aan God se volk. Gelowiges en hul kinders het die merkteken gedra van God se verbond met Sy volk wat ‘n getuienis is van Sy genadeboodskap aan hulle. Dit het nie outomaties redding beteken nie maar was ‘n getuienis aan elke lid van die volk (kinders ingesluit) dat hulle God se verbondsvolk is. 

Die waarskuwing tekste in Hebreërs het nou meer sin begin maak (vanuit ‘n verbondsbeskouing). Bv., in Hebreërs 10:29 praat dit van die wat die bloed van die verbond vertrap wat hul geheilig het. Die teks kan slegs sin maak vir mense wat in die verbond gebore is en dan die genade van die verbond verwerp. Hierin kan ons sien hoe die bloed van Christus, soos Paulus verduidelik het in 1 Korintiërs 7:14, kinders van gelowiges “heilig” (afsonder). Die beeld wat hieruit vir my duidelik geword het is dat daar twee groepe mense is; die wat van buite deur geloof deel van die verbond word (heidene), en die wat uittree deur ongeloof (kinders van gelowiges). Die beeld is ook duidelik uit Handelinge 2:39. Daar is twee groepe in die vers; gelowiges en hul kinders (Jode) binne die verbond, en die heidene wat die Vader van buite sal deel maak van die verbond. Baptiste sien die vers anders deurdat hulle die klem op die laaste gedeelte van die teks plaas – “die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Die sinskonstruksie in die Grieks maak dit egter duidelik dat hier van twee groepe gepraat word. 

Die gevolg hiervan is dat Gereformeerde Baptiste die verbondsgemeenskap as net een sirkel sien – sigbare en onsigbare kerk is gelyk – bestaan slegs uit wedergeborenes. Hierdie is seker die belangrikste verskil wat ek begin raaksien het. Hulle erken dat die Ou Testamentiese verbondsgemeenskap uit gelowiges en ongelowiges bestaan maar dat dit verander het in die Nuwe Testament. Volgens hulle het die aard van die verbond verander soos dit voorspel was in Jeremia 31:33-34. Die nuwe verbond sou net uit wedergeborenes bestaan. Die het egter nie vir my sin gemaak in die lig van wat Jesus geleer het oor die aard van die kerk in die Nuwe Testament nie – koring en onkruid groei saam (Matt. 13:24-43). Verder, as ‘n mens Jeremia 31:33-34 in konteks lees, sien mens dat die verbondsformule (jy en jou nageslag) herhaal word in die voorspelling van die nuwe verbond. Die nuwe verbond sou nie die kinders van gelowiges uitsluit nie. Inteendeel, Jesus se bediening as Priester, Profeet en Koning sou beteken dat almal in die verbond direk van Hom kan leer sonder ‘n tussenganger (profeet of priester). Die waarskuwingstekste in Hebreërs het ook die prentjie bevestig aangesien ons nie glo dat mense hul redding kan verloor nie. Dit sou eerder ‘n geval wees van die wat in die verbond was (koring en kaf) wat later hulle ware kleure begin wys deur ongeloof. Dit het duidelik vir my geword dat die verbondsgemeenskap uit gelowiges en ongelowiges bestaan soos in die Ou Testament. 

Toe ek op die punt kom kon ek nie meer anders as om te glo dat my kinders verbondskinders is wat die verbondsteken moet ontvang nie. Die hoeveelheid water maak nie saak nie en daarom is besprinkeling goed genoeg. Onderdompeling is nie normatief nie want dit is simbolies van afwassing van sonde soos die besprenkeling van bloed teen die altaar in die Ou Testament (Númeri 19:13, 18-21; Levitikus 14:7-8). Daar is te veel situasies wat onderdompeling moeilik maak sodat dit normatief moet wees. Die lyn van verbond tussen die Ou en Nuwe Testament is ononderbroke en die doop het die besnydenis vervang as verbondsteken (Kol. 2:11-12). Dit was ‘n groot troos om te weet waar my kinders in God se verlossingsplan staan. Dit het my baie hoop gegee vir die redding van my kinders omdat God reeds genade aan hulle bewys het. Waarom sou God ons die opdrag gee om te trou en kinders in die wêreld te bring sonder enige hoop vir hul redding en hul toekoms? Dit was ‘n wonderlike getuienis van God se onverdiende genade. Verbondsteologie was vir my ‘n groter en ryker openbaring van God as my Vader. Dit het my gebedslewe en aanbidding baie verdiep. Dit het ook my insig tot die Skrif verbreed en verdiep. Sonder die verbond het ouers min hoop vir hul kinders en is die Christelike geloof maar net so individualisties as die wêreld. 

Ter afsluiting deel ek graag paar skakels van boeke, videos en artikels wat my baie gehelp het op my reis. Guy Richard se boek, Baptism: Answers to Common Questions” is ‘n kort boek wat die algemene objeksies in eenvoudige taal beantwoord. Dr Fesko het ‘n boek geskryf, “Word, Water, and Spirit: A Reformed Perspective on Baptism,” wat na my mening een van die beste boeke in die 21ste eeu is oor die doop. Hy het ook ‘n reeks gepreek oor die boek wat op YouTube beskikbaar is (https://youtu.be/3LeUEE65q6A). Die volgende video gee ‘n baie eenvoudige oorsig van die verbond en die doop (https://youtu.be/AM6sZxzzKI4). In die video gee Dr. Richard Pratt ‘n baie eenvoudige verduidelik hoekom gereformeerdes babas doop (https://youtu.be/VuvQYZSeza0). In die twee artikels getuig twee predikate hoekom hul siening verander het oor die doop (How I Changed My Mind about Infant Baptism by Dr Liam GoligherHow My Mind Has Changed by Dr. Dennis E. Johnson). In die artikel verduidelik John Murray of die doop van babas Bybels is (Is Infant Baptism Scriptural? by John Murray).  

Dankie dat jy die artikel gelees het. Ek vertrou dat die Here deur my getuies vir jou meer duidelikheid gebring het aangaande die verbond en die doop. 

Jaco de Beer 

Kaapstad